Christus IS Lig

Jesus Christus, U het my eendag vertel dat U die agtste dag IS.

"Dan is My bloed nie meer nodig nie. Dan bestaan Ek vir julle nie meer in julle oë as 'n mens nie, maar dan sien julle my geestelik in My ware gedaante; in My Goddelike kleed dieselfde as My Vader. My bloedwonde het Lig geword; Goddelike Lig wat die heelal in stand hou. Dan is jy nie meer 'n vreemdeling nie, maar ingewy in gewyde grond wat deur My bloed gekoop is. Dan sal julle in My koninkryk geestelike mense wees.

Dit is waarom Ek as Koning gekroon moes wees, as bespotting. Maar My Hemelse Vader het ook dit ten goede verander omdat Hy My liefgehad het, en dit het die ware kroon vir die ware koningskap geword. Julle sal ook krone dra as julle die Hemelse Vader liefhet. Lees in Psalm 8 hoe Hy julle met eer en heerlikheid kroon. Sonder julle kroon van Lig sal julle nie daar inkom nie. Julle kandelaar van agt ligte moet brand ter ere van God.

Julle moet in hierdie tyd die gordyne, die dogmas, verbreek. Ek IS 'n Hemelse Meester en gee nog altyd Hemelse onderwys. Julle siele sal nuwe tempels wees van nuwe stille krag met die agtste ligsentrum oop na die hemel.

Wees een met die onsigbare Koninkryk. Die onsigbare Koninkryk is geestelik. En so sal julle dit nie met julle stoflike oë kan sien nie. Die geestelike krag wat jy egter in jou agste ligsentrum ontvang, sal deurstraal in jou hele liggaam. En so sal julle die nuwe hemel en die nuwe aarde in julle self ken.

Die aarde self moet ook eers die stilte leer ken. Sy moet stil word, baie stil en weet Ek IS die Skepper van hemel en aarde; die bron van alle energie. Die sleutel daartoe is die liefde, Goddelike energie in aksie. Ongekende wêrelde sal geken word. Vreemde wêrelde...As die liefde egter uit die mens gaan, sal die deur gesluit word.

Die teken van volmaakte harmonie in jou siek sal die wit Christus-lig ontvang; die ewigheidslig wat altyd in jou siel sal brand; die altaar in jou siel; die ewige kerk. En so sal die Christus-bloed vir die mensheid verander word in Christuslig. Sy wonde sal verlig wees met die liefdeslig, en die energie word universele energie.

Toe julle om vergifnis gebid het vir die Kleed van Turyn, vir die mense wat nie die kleed erken as 'n afdruk van My liggaam nie, het Ek jou die ring van jou vinger laat neem omdat die een steen stukkend was. In die steen het die gesig van engel Michael verskyn - hy wat die sfere voorberei vir diegene wat luister; die tempel van stille krag.

En dit was die betekenis van die verskyning van die Hemelse Moeder in julle boom. 'Kyk na jou ring,' het Sy gesê 'en bid vir lig in die wonde.' Jou ring met die vyf stene is die simbool van My wonde aan die kruis. Later het Ek vir jou die boodskap gegee van die nuwe atoom wat uit die vyf wonde gebore gaan word.

Op die berg by Sanipas was My manifestasie van volmaakte harmonie; van My wonde wat verander het in Ligenergie. 'n Lugwolk in die vorm van die volmaakte harmonie het in die lug verskyn. En later was daar die vyf draaiende wiele op die berg as antwoord uit die hemel. Julle het verstaan."

In God 'n welbehae. Sy tempel word gebou. Soos in Psalm 5 sal U vir ons oprig en omring met liefde. En hulle sal ontvang want hulle dra die seël van God op hulle voorhoofde. Die sewende basuin sal geblaas word.

As die tyd kom van die twee getuienisse, van die twee olyfbome en die twee kandelare, moet ons een wees met die krag van die Olyfberg. Die twee olyfbome, die stilte en die hemelvaart op die Olyfberg. Die twee ligte, die twee kandelare, die Christuslig wat ons lei na die Godslig. Want dit sal wees soos in die agtste psalm. U het die mens 'n weinig minder gemaak as 'n goddelike wese en hom met heerlikheid gekroon; die mens wat U naam ken: EK IS WAT EK IS.