"Ek IS die Alfa en Omega"

Geskryf deur Jan Laponder.

Die Zugspitze

In 1976 het Wil en Jan 'n toer onderneem na verskillende heilige plekke oorsee. So het dit dan ook gekom dat sy en 'n vriendin, wyle Susan van Rensburg, hulle op 'n bitter koue dag op die Zugspitze, die hoogste bergtop in Duitsland, bevind het. Hier het die Hemelse Vader vir Wil in 'n visioen geopenbaar dat daar 'n baie groot aardbewing gaan kom wat van Europa af deur die Middellandse see en deur die Afrika-slenkdal tot by die Zambezi gaan strek. Dit sal met groot verwoesting en die verlies aan baie menselewens gepaard gaan.

Susan van Rensburg, wat 'n graad in Aardrykskunde gehad het, het die Hemelse Vader se boodskap bevestig deur aan Wil te verduidelik dat daar inderdaad 'n reuse rif of skeur in die aardkors van die aangeduide gebied is.

By hierdie geleentheid het die Hemelse Vader ook vir Wil opdrag gegee dat sy moes bid vir die beskerming van die Suidpunt sodat Suid-Afrika gespaar mag bly:

"Laat die suidelike punt van My aarde nie verlore gaan nie."

 

Twaalf versteurde elektromagnetiese punte

Terug in Suid-Afrika het Wil en Jan, gelei deur die Hemelse Vader, 'n tog onderneem na die dorpe Ixopo en Richmond by die Suidelike Drakensberge in Natal, om daar te bid vir beskerming van die Suidpunt. Ixopo en Richmond is geleë naby waar 30°O breedtelyn met dié van 30°S lengtelyn kruis. Hierdie spesifieke punt is volgens Ivan Sanderson, 'n bekende natuurwetenskaplike, een van 12 elektromagnetiese punte op die aarde wat versteur is. Twee ander meer bekende punte is die Bermuda-driehoek en die Duiwelsee by die Filippynse eilande. Daar is slegs drie punte op land waarvan 30°S/30°O een is.

Soos 'n mens 'n siek persoon in gebed kan opdra en om genesing bid, so kan 'n mens ook die planeet opdra in die liefdevolle sorg van die ons Hemelse Vader en vra vir genesing van 'n sekere punt wat uit balans is. Terwyl sy by Richmond besig was om te bid, wys die Hemelse Vader vir haar in 'n visioen dat die aarde se posisie ten opsigte van die son gaan verander.

Sanipas

Van Ixopo en Richmond af het die Hemelse Vader Wil na Sanipas, een van die hoogste punte in die omgewing, gestuur om daar te bid en Sy genesende lig van daar oor die Suidpunt te straal.

Sanipas, die hoof-toegangsroete tussen Natal en Lesotho, is seker een van die mooiste natuurskoonwonders van Suidelike Afrika. Aangesien mens 'n vierwielaangedrewe voertuig nodig het om bo te kom, het hulle die pas saam met 'n toergeselskap aangedurf.

Vanaf die riviervallei en voetheuwels van die Groot-Drakensberg klim die pad met asemrowende natuurtonele boontoe. Dit kronkel teen die berghange uit tot dit die top bereik, vanwaar mens 'n uitsig oor die hele roete kry.

Op die top van die berg is daar 'n klein hotelletjie opgerig, die Sani-top Chalet, wat by 2874 m bo seevlak die hoogste gastehuis in Suid-Afrika is. Hiervandaan is die uitsig oor die dal asemrowend. Van hier af strek die roete na Mokhotlong weswaarts oor die Kotisephola-pas van waar Ntabana Nthlenijana (3482 m), die hoogste punt in Suid-Afrika, besigtig kan word.

Dié nag sou die Laponders die enigste gaste wees om in die chalet bo-op die berg oor te slaap, terwyl die res van die toergroep weer teruggedraai het.

Die verskyning in die dal

Wil het haar ingestel op die kragveld van die omgewing soos wat sy altyd maak as sy in opdrag van die Hemelse Vader 'n taak het om te volvoer. Vreemd genoeg vir haar kon sy aanvanklik niks aanvoel nie. Sy het ook nie presies geweet wat sy moet doen nie, behalwe om te bid.

"Wat verlang U dat ek hier moet doen, Hemelse Vader?" het sy gebid.

Toe het die Hemelse Vader se stille stem tot haar gespreek:

"Bid vir die Groot Piramide vanuit hierdie punt. Daar het iets verkeerd gegaan in die piramide en dit het vir Moses en ook vir Jesus benadeel. Bid vir vergiffenis van die Groot Piramide en vra dat die fout herstel word."

Alhoewel dit op daardie tydstip nie vir Wil baie duidelik was wat die Hemelse Vader met die opdrag bedoel het nie, het sy Sy opdrag gehoorsaam, waarop sy een van die grootste geestelike belewenisse van haar lewe sou meemaak. Laat die middag, terwyl sy besig was om te bid, kry sy plotseling 'n sterk drang om by die venster van die chalet uit te kyk. Stom van verbasing sou sy sien dat Christus vir haar verskyn het in sy oorwinningsteken van volmaakte harmonie en balans - die tetraeder-vorm. Sy arms was bo sy kop uitgestrek asof in die kruisposisie. Vanuit die plekke waar die spykers Hom deurboor het, sy polse, hartwond en voete, het ligspirale antikloksgewys uitgestraal.

"Ek IS die Alfa en Omega," het Hy gesê. "Die Begin en die Einde."

"Maar Christus," het Wil ontroerd gevra, "hoe sal die mense dit tog glo?"

"Kyk agter jou," het Christus gesê.

In die venster agter Wil het sy 'n reusagtige wit stapelwolk gewaar in die dieselfde vorm as wat Christus vir haar verskyn het. Op die punte waar sy wonde sou gewees het, het rooi kolle van die ondergaande son daarin weerkaats - 'n majestueuse getuienis van sy openbaring aan haar. Die kamerbediende, Seth, wat intussen by die kamer ingekom het, was oorstelp ten aanskoue van soveel Goddelike majesteit. "So-iets moois het ek nog nooit gesien nie," het hy uitgeroep. So in vervoering was die drie mense dat niemand daaraan gedink het om die wolk op kamera vas te lê nie. Teen die tyd dat dit Jan bygeval het, was die son al amper onder. Hy het nogtans 'n skyfie van die skouspel geneem waarop 'n afskynsel van die aanvanklike grootsheid vasgevang is. Die verskyning van die Alfa en die Omega in die dal en die Wolk van Getuienis (so het Wil die wolk later genoem) wat daarmee saamgegaan het, was die begin van baie nuwe Goddelike openbarings oor die toekoms van Suid-Afrika en die eindtye waarin ons leef.

The Cloud of Testimony

Die laaste van die sewe wonders van die wêreld

Die verskyning van Christus by Sanispas in die vorm van die volmaakte balans, en die Hemelse Vader se opdrag dat sy om vergiffenis moes bid vir iets wat in die groot Piramide verkeerd gegaan het, sou Wil by haar tuiskoms in Pretoria bybly. So tussen die bedrywighede van die pasiënte deur het sy tyd gemaak om meer te wete te kom oor die Groot Piramide van Giza.

Tot nou toe was sy nie juis baie geïnteresseerd in die geheimenisse van hierdie ou konstruksie nie, maar nou het sy gevoel dat sy tog nouer moet kennis maak met die laaste oorblywende wonder van die sewe wonders van die wêreld - veral toe "The Reader's Digest World Atlas" duidelik uitwys dat die piramide min of meer op een lyn lê met Ixopo. Die piramide is geleë op die plek waar die 30-grade-Noorderbreedtelyn kruis met dié van die 31-grade-lengtelyn. Ixopo lê min of meer op die plek waar die 30-grade-Suiderbreedtelyn kruis met dié van die 30-grade-lengtelyn soos aangedui op die grafiese voorstelling. Daar moes dus 'n baie duidelike verband bestaan tussen die Groot Piramide en Christus se verskyning in die dal by Sanispas. Maar wat?

'n Studie van die Groot Piramide sou fassinerende gegewens aan die lig bring:

Deur God geïnspireer

Die Groot Piramide van Giza of Cheops soos dit ook bekend staan, is die enigste een van die sewe wonders van die wêreld wat nog staan.

Dat hierdie gebou uniek is en waarlik die naam "wonder" waardig is, is seker en gewis. Wanneer mens die merkwaardige presisie en monumentaliteit van die piramide in ag neem en die matematiese, numeriese, astronomiese en skriftuurlike kennis daarin opgesluit, kan mens nie anders nie as om tot die slotsom te kom dat dit nie Egiptenare was wat die piramide gebou het nie, maar mense wat deur God afgevaardig is.

John Taylor het reeds in 1859 'n boek geskryf, gebaseer op feite van ander, waarin hy beweer dat die werklike argitekte nie Egiptenare was nie, maar mense van 'n ander geloof wat deur God self geïnspireer is. Die piramide dien as 'n gedenksteen vir die nageslag; as 'n getuienis van die waarheid en werke van God gestel teenoor die valsheid en korrupsie van 'n afgetakelde en sondige wêreld.

Aldus berekeninge wat deur wetenskaplikes gedoen is die piramide gebou gedurende die bewind van Cheops, 'n Farao wat in die vierde dinastie van die Farao's regeer het. Dit is geleë in die huidige Egipte, aan die Suidpunt van die Nyldelta, op die aarde se langste landgebonde meridiaan Noord/Suid en die langste landgebonde parallel Oos/Wes. Wat verder merkwaardig is, is die feit dat dit in die middelpunt van die aarde se landmassa geleë is. Ook verdeel dit Egipte van Noord na Suid en Oos na Wes.

'n Studie van die naam "Piramide van Giza" het ook interessante feite aan die lig gebring. In Arabies beteken Giza "grens". In Grieks beteken piramide "ligte" en in Hebreeus "openbaring in afmetings". In Oosterse taal beteken piramiede die volgende: Pi byteken "liggolf". Ra beteken ook "golf". Mids beteken "gebou".

Later sal ons sien hoe goed al drie die name op die piramide van toepassing gemaak kan word.

Nie 'n graftombe nie

Die Piramide van Giza is die grootste van al die piramides en ook die eerste gebou. Dit is gebou van graniet, oordek met 144 000 wit kalksteenklippe wat glad afgewerk was. Dit is egter oor die jare afgesteel vir boudoeleindes sodat 'n mens nou trapsgewys kan opklim na die sluitsteen wat ontbreek.

Tot die jaar 825 nC was die binnekant onbekend. Mohammeda Caliph Ali Mamoun wat in Kaïro gaan bly het na sy aftrede was so ingenome met die stories oor die geweldige rykdom wat glo in die piramide geberg was dat hy besluit het om in te breek.

Volgens oorlewering was die ingang aan die Noordekant. Ali en sy manne het aangeneem dat dit in die middel van die Noordekant moes wees en hulle het omtrent 30 vt bo die grond begin grawe. Veel later is dit egter ontdek dat die ingang weens astronomiese redes 24 vt Oos van die middellyn was.

Ali Mamoun en sy manne het 'n tonnel van omtrent 100 vt gegrawe met geen sukses nie, toe hulle 'n klip hoor val. Met hernieude ywer het hulle voortgegaan en by 'n gang uitgekom waar hulle 'n pragtige prismatiese klip op die vloer gevind het. Die klip wat klaarblyklik van bo af afgeval het, het 'n opwaartse gang blootgelê waarvan die opening bedek is met 'n soliede "Port-cullis." Nadat hulle met moeite daarin geslaag het om hulle pad deur hierdie hindernis heen te kap, was hulle uiteindelik vry om die binnekant en gange van die piramide te ondersoek.

Groot was hulle teleurstelling toe hulle ontdek dat daar geen skatte of rykdom vir hulle gewag het nie. Ook was daar geen meubels nie, net 'n leë granietkis. Ook geen hierogliewe of inskripsies teen die mure nie, soos 'n mens by 'n graftombe van 'n Egiptiese Farao sou verwag nie!

Vir ongeveer tien eeue het die geheim van die Groot Piramide onopgelos gebly totdat wetenskaplikes in die tweede helfte van die negentiende eeu binne en buite-opnames daarvan gemaak het en interessante feite blootgelê het. Hierdie feite het 'n splinternuwe studieveld geopen wat die belangstelling van wiskundiges, astronome en teoloë oor die jare heen tot in ons huidige tyd geprikkel het.

Die piramide is seker dié gebou wat die deeglikste opgemeet is van al die geboue ter wêreld en seker ook dié konstruksie waaroor daar die meeste geskryf is. Gaan 'n mens die feite na, kan jy verstaan hoekom dit soveel belangstelling uitlok. Vir die doel van die dokument gaan ek net enkele feite aanstip sodat die goue draad van dit wat ek wil oordra nie in 'n magdom syfers en berekeninge versmoor word nie. 'n Mens kan alte maklik in 'n strik van numerologiese data vasgevang word!

Wiskundige en astronomiese kennis

Eenheid van meting:

Die eenheid van meting wat gebruik is, is die sogenaamde piramide duim (p") wat 'n fraksie langer is as ons moderne duim. Waarom nou juis so 'n metingseenheid? Die deursnee van die aarde is 500 500 000 van ons duime lank. Een 500 miljoenste deeltjie van hierdie afstand is 1.001 van ons duime. Sou ons alle breukdele oprond en 'n 500 miljoenste deeltjie 'n duim noem, het ons 'n gerieflike metingseenheid, omtrent 'n haarbreedte langer as ons huidige duim. Dit sou die natuurlikste metingseenheid op aarde wees. Dit inderdaad is die piramide duim.

Vyf en twintig piramide duime (gelyk aan 25,025 van ons moderne duime) is 'n heilige kubit - die eenheid van meting wat God self vir die Israeliete van ouds gegee het en waarvolgens alle heilige geboue opgerig moes word; so-ook die profeet Esegiël se tempel.

'n Tweede belangrike gegewe is dat al drie die jaarlengtes in die sye ingebou is, naamlik die sonjaar (365,242 kubit), die sideriese jaar (365,256 kubit) en die anomalistiese jaar (365,259 kubit).

Ook die afstand van die aarde na die son word in die piramide weergegee. Die helling waarmee die sye boontoe loop is 10 tot 9. Dit wil sê vir elke 10 vt wat 'n mens teen die piramide uitklim, styg jy inderdaad 9 vt. Wanneer 'n mens die hoogte van die piramide maal met 10 tot die mag 9, kry jy, as jy dit in terme van myle uitdruk die presiese afstand van die aarde na die son.

In die konstruksie van die piramide is ook die oplossing geleë van hoe om die oppervlakte van 'n sirkel te meet en in terme van 'n vierkant weer te gee. Die omtrek by die basis van die piramide is presies gelykstaande aan die omtrek van 'n sirkel waarvan die radius gelykstaande is aan die hoogte van die piramide.

Datum van oprigting

In 1839 het Sir John Herschel vasgestel dat die afwaartse gang in die piramide vermoedelik bedoel was om te wys na die poolster met die datum van konstruksie. Dit is nou bekend dat die ster Alpha Draconis is, die poolster van die jaar 2170 voor Christus. Alpha Draconis opsigself lê nie die datum vas nie, maar wel as 'n mens dit in kombinasie sou sien met 'n ander ster. Vir 'n tyd lank het wetenskaplikes gedink dat die son staties is en dat die planete en komete daaromheen sirkel. Ons weet egter nou dat dit nie waar is nie, en dat die son en al sy planete om 'n sentrale punt in die heelal beweeg. Daardie punt is die ster Alcyone, die sentrale punt van die Pleiades. Dit is na hierdie ster waarna die punt van die piramide gewys het om middernag van die jaar 2170 voor Christus. Die kombinasie van hierdie twee sterre (Alpha Draconis en Alcyone) sal nie weer voorkom voordat 25827 jaar verbygegaan het nie, of soos dit genoem word die eweningspresessie.

Hierdie enkele interessant feite - daar is nog baie meer ter stawing - wys duidelik uit dat die piramide 'n model van die aarde in die kleine is. Daar is duidelike ooreenkomste tussen die piramide se afmetings en die aarde se basies geofisiese data en orbitale astronomie.

Die gangestelsel

Die piramide is die enigste van die piramides wat opwaartse gange het. Die interieur word gekenmerk deur 'n fynberekende rangskikking van opwaartse en afwaartse gange en vertrekke wat so daar uitsien:

As 'n mens die piramide betree, kry jy 'n afwaartse gang wat reguit afdaal na 'n vertrek wat uit soliede rots gekap is en omtrent 100 voet onder die basis van die piramide is. Hierdie vertrek - wat mettertyd die naam Put van Chaos - gekry het, blyk onvoltooid te wees omdat die vloer daarvan rof en onafgewerk is en omdat 'n gangetjie aan sy teenoorgestelde kant stomp eindig -die sogenaamde doodloopgang.

Wanneer 'n mens sowat 985 duim aanhou met die afwaartse gang, kom jy by 'n opwaartse gang van dieselfde hoogte as die afwaartse gang en wat boontoe loop met dieselfde helling as wat die afwaartse gang na onder loop. Hierdie opwaartse gang loop uit in die sogenaamde Groot Gallery wat al nouer loop na bo. Dit word veroorsaak deur sewe rye stene waarvan elke daaropvolgende ry by die vorige oorhang. Omtrent drie voet vanaf die ingang na die Groot Galery aan die westelike kant is daar 'n rowwe opening wat lei na 'n soort grot en daarna op 'n slangagtige, kronkelende manier deur die klipwerk en soliede rots afdaal om by die Put van Chaos aan te sluit.

Aan die voet van die Groot Galery is daar 'n horisontale gang wat lei na 'n kamer genaamd die Koninginkamer. Dit het 'n driehoekige dak, en as 'n mens 'n denkbeeldige lyn loodreg sou aftrek vanaf die top van die piramide sou dit deur die middel van die Koninginkamer gaan.

Aan die bokant van die Groot Galery is daar 'n gang wat lei na die voorkamer wat toegang verleen tot 'n vertrek twee keer groter as dié van die Koninginkamer, naamlik die Koningskamer. Die Koningskamer is opgebou uit rooi graniet en bevat die enigste meubelstuk in die hele piramide naamlik 'n sarkofaag, leeg en dekselloos, gekap uit 'n soliede blok rooi graniet.

Bo die Koningskamer is daar twee ventilasiegange wat dit met die buitekant van die piramide verbind en wat die Koningskamer die hele jaar teen 'n konstante temperatuur hou. Die dak van die Koningskamer bestaan uit nege swaar blokke, en daarbo is vyf hol spasies bedek met massiewe klippe en so gerangskik dat dit die gewig van die massa daarbo kan dra.

Skriftuurlike kennis

Hoekom hierdie rangskikking van gange en vertrekke, het piramidoloë hulleself oor die jare afgevra. Daar is geen argitektoniese doel daarvoor nie, want die piramide is toegemessel. Ook kan dit geen graftombe of mausoleum wees nie, want daar is geen inskripsies of hierogliewe gevind nie. Kan dit wees, was die vraag wat geleerdes hulleself afgevra het, dat die Groot Piramide, benewens matematiese en astronomiese kennis ook skriftuurlike kennis bevat?

Dit blyk inderdaad so te wees uit bevindinge waarop piramidoloë afgekom het. So is daar byvoorbeeld die Christus-driehoek wat 'n chronologiese bevestiging is van sy geboorte 4 vC, sy bediening, lyde en sterfte en opstanding 29 nC, presies 33 en 'n half jaar.

Die sogenaamde Paulus-driehoek gee Paulus se sending 46 nC tot 58 nC weer.

Dan is daar ook die kennis wat versteek is in die Groot Galery met sy sewe oorhangende klippe en die sarkofaag, die enigste meubelstuk, waarvan die inhoudsmaat dieselfde is as dié van die Verbondsark in die Ou Testament.

Teksverse

Die geleerdes het benewens fisiese berekeninge wat hulle van die gangestelsel en vertrekke in die piramide gemaak het, hulle gewend tot die Bybel en in Jesaja, Efesiërs en Petrus teksverse gevind wat in alle waarskynlikheid op die piramide van toepassing is:

Jesaja 19:19-20 :

19 In die dag sal daar 'n altaar wees vir die Here binne-in Egipteland en 'n gedenksteen vir die Here by die grens.

20 En dit sal wees 'n teken en 'n getuie vir die Here van die Leërskare in Egipteland - en as hulle die Here aanroep vanweë die verdrukkers, sal Hy aan hulle 'n redder stuur en 'n stryder wat hulle sal verlos.

Volgens die skrywer verwys die dag na die dag van die Here wat in die toekoms lê.

Altaar en gedenksteen verwys na een en dieselfde saak. Die woordjie altaar in Hebreeus beteken Leeu van God en kon na die Sfinks verwys, maar heelwaarskynlik verwys dit na die Groot Piramide aangesien dit, wat sy grootte betref, die "Leeu" van geboue is.

Hoe is dit egter moontlik dat dit tegelyk binne-in Egipte kan wees asook by die grens?

In 1868 is prof H Mitchell van die VSA na Egipte gestuur om die vordering van die Suezkanaal te rapporteer. Getref deur die besondere patroon van die uitlopers van die Nyl, het hy 'n goeie kaart geneem en 'n boog getrek wat aan al die prominente punte van die kuslyn raak, en gesien dat dit 'n boog van 'n sektor vorm waarvan die piramide die middelpunt is.

Die piramide is dus tegelyk in die middel van Egipte en tegelyk by die grens omdat dit op die grens van Bo- en Onder-Egipte is. Wat verder interessant is van die teksvers, is die woorde "getuie" en "stryder": Dit sal dien as 'n getuie dat die Here vir diegene wat Hom aanroep 'n redder sal stuur wat hulle sal verlos. Is dit dalk 'n heenwysing na Christus as die Verlosser en redder van die mens wat in verdrukking verkeer? Daarop kom ek later terug.

Die tweede gedeelte wat heelwaarskynlik ook op die piramide van toepassing is, is Efesiërs 2: 19-22 :

19 So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God: 20 Gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is (in Engels chief corner stone of capstone). 21 In wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die Here. 22 In wie julle ook saam opgebou word tot 'n woning van God in die Gees.

In hierdie gedeelte word die gelowiges en volgelinge van Jesus Christus as 'n gebou, 'n heilige tempel, voorgestel met Jesus as die hoof-hoeksteen. (In Engels capstone)

Watter gebou het fondamentklippe en 'n sluitsteen of hoof-hoeksteen behalwe 'n piramide?

In 1 Petrus 2 verse 4-10, lees ons:

4 Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; 5 en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. 6 Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion 'n uitverkore en kosbare hoeksteen, en dié wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. 7 vir julle wat dan glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword; en: 'n steen van aanstoot en 'n rots van struikeling - 8 vir die wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is. 9 Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. 10 julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is, aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.

Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword. Hoe interessant! Die struktuur van 'n piramide is sodanig dat die hoof-hoeksteen (capstone) of sluitsteen heel laaste bo-op geplaas moet word om die gebou af te rond.

Die hoeksteen en die sluitsteen

Die sluitstene van ander piramides is dikwels verguld om die son voor te stel, vandaar die Hebreeuse naam lig.

Die interessante feit van die Piramide van Giza is dat die sluitsteen ontbreek - simbolies van 'n wêreld wat onvolmaak is; wat in die duister verkeer.

Die ingeboude verskuiwingsfaktor

Nou is dit interessant dat as gevolg van 'n ingeboude verskuiwingsfaktor - daar is drie sulke faktore wat in die piramide ingebou is om die onvolmaakte staat van die aardse bestel weer te gee - die fisiese sluitsteen nooit geplaas sou kon word nie. 'n Volmaakte sluitsteen met die afmetings van 'n volmaakte piramide sou te groot wees vir die basisomtrek van die werklike topplatform.

Die werklike topplatform is 7 X 268,1" as gevolg van die verskuiwingsfaktor. Die basisomtrek van die sluitsteen is 8 X 286,1". Dit word veroorsaak deur die vier sywande van die piramide wat as gevolg van die verskuiwingsfaktor elk gebou is met 'n induiking van 286,1". Dit veroorsaak dat die topplatform 286,1" te klein is vir die sluitsteen wat moet kom.

Die sluitsteen wat dus in hierdie geval geplaas moet word om die gebou af te rond, kan nie 'n fisiese steen wees nie. Dit sal 'n GEESTELIKE SLUITSTEEN moet wees - 'n LEWENDE STEEN soos Christus in 1 Petrus 2 dan ook inderdaad genoem word.

'n Lewende steen en geestelike son

Nou kan 'n mens die verskyning by Sanispas met nuwe insig waardeer. Christus het Hom daar bekendgestel as die Alfa en die Omega - die begin en die einde. Hy het Hom geopenbaar as Goddelike Lig in sy oorwinningsteken van volmaakte harmonie - as die lewende steen, die sluitsteen. Hy is na analogie van die geboubeeld, die fundasiesteen en die hoof-hoeksteen of sluitsteen.

Hy is inderdaad die wonderbare lig van 'n wêreld wat in die duisternis wandel, in teenstelling met ander piramides wat 'n vergulde sluitsteen gehad het. Hy IS inderdaad die ware, nuwe geestelike son van geregtigheid onder wie se vleuels daar genesing sal wees (Maleagi 4 vers 2). Hy IS inderdaad die Messias wat die mens uit Egipteland, uit die slawehuis, uit sal lei na die beloofde land.

'n Nuwe hemel en 'n nuwe aarde

Die twee syfers sewe en agt wat by die plasing van die sluitsteen op die topplatform ter sprake is, het 'n dieper simboliese betekenis:

Die syfer sewe word altyd geassosieer met 'n voltooide geheel terwyl die syfer agt altyd met die nuwe en met Christus wat die nuwe bring, geassosieer word.

Die piramide verteenwoordig die aarde, die huidige onvolmaakte wêreld, terwyl Christus as die sluitsteen, die ou wêreld afsluit, maar terselfdertyd die deur is na die nuwe wêreld en die nuwe hemel.

Jesus Christus het vir Wil verduidelik dat die Christus-sluitsteen so geplaas sal word dat sy voete op die basisplatvorm van die piramide sal rus. Die Goddelike ligkrag wat uit sy voete sal stroom, sal deur die Koninginkamer straal, deur die helkamer of put van chaos tot in die ysterkern van die aarde wat verander gaan word. Soos wat Christus se wonde aan die kruis - veroorsaak deur die ysterpenne - in Goddelike ligenergie gaan verander by sy wederkoms, netso gaan die ysterkern binne die aarde ook verander word. Die elektromagnetiese energie waarop die aarde funksioneer gaan verhoog word tot Christus-ligenergie. Die twee boonste punte van die Christus-kristal sal beskermende spirale van lig om die aarde vou en haar op 'n nuwe geestelike baan plaas sodat sy een kan wees met die troon van God.

Die sluier van die bruid sal versoen word word met die ligenergie van die Bruidegom en die aarde en die hemele sal een wees. Die krag van Christus se liefde, die Bruidegom se liefde (hemel) sal een wees met die bruid (aarde). Dan sal die Bruigedom (Christus) sy ring gee vir die bruid (aarde). Die dood (die grafsimbool) sal oorwin wees en die aarde en die mens sal hulle ware opstanding beleef.

Die aarde sal verhoog word in die heelal. Die Christuslig sal na iedere planeet en sterrestelsel straal wat dit wil ontvang. Energiespirale sal soos boodskappe van die een planeet na die ander bewweg. Volmaakte kommunikasie sal plaasvind. Ons sal geestelik met alle ligsiele op alle planete en sterrestelsels kan kommunikeer. Die vreugde van pase en Kersfees sal 'n liglied word.

Soos in die hemel net so ook op die aarde

Die Hemelse Vader het ook vir Wil geopenbaar dat die piramide ook in verbinding staan met die sterrebeeld Orion in die hemelruim. Hy het ook vir haar verduidelik dat die onderste gedeelte van Orion wat op die noordekant van die aarde gerig is, ooreenkom met die piramide terwyl die terwyl die boonste gedeelte die sluitsteen voorstel. Die piramide is 'n aardse vergestalting, 'n spieelbeeld, van dit wat in die hemele gebeur. Net soos wat die Christus-sluitsteen op aarde in werking sal kom met Christus se oorname, so sal die sluitsteen in Orion geaktiveer word om sy oorname oor die hemele te verseël. Hy neem nie slegs heerskappy oor die aarde oor nie, maar die ganse hemelruim sal 'n voetbank vir sy voete wees.

Die gordel van Orion, waar die voete van Christus simbolies rus, is inderwaarheid ook die gedeelte waar nuwe sterre gevorm word. Die boodskap van die Hemelse Vader dat daar 'n ooreenkoms is tussen die piramide en Orion is gedeeltelik bevestig deur 'n televisieprogram wat deur die SABC gebeeldsend waarop die vervaardigers van die program beweer dat geleerdes vasgestel het dat die Groot Piramide saam met die twee kleiner piramides wat langs die hom staan netso gerangskik is soos drie sterre in die gordel van Orion.

Die hartlyn herstel

Die Hemelse Vader het in die loop van die volgende jare nog meer aanwysings gegee oor die Christus-sluitsteen en ook waarom die lyne 30 en 31 so belangrik is. Voordat ek meer daaroor uitwei, is dit op hierdie stadium ter wille van groter helderheid belangrik dat ek weer terugverwys na die skepping van die aarde. Soos reeds in die eerste hoofstuk vermeld, het die Hemelse Vader die aardkristal in die vorm van 'n sferiese tetraeder geskape - sy handtekening van volmaakte harmonie wat soos 'n skeppingspatroon herhaaldelik in die heelal voorkom. Die Hemelse Vader het verder verduidelik dat daar benewens sy harmonieteken ook nog 'n ander simbool in die ongeskonde aardkristal ingebou was, naamlik dié van 'n hart wat sy Goddelike liefde gesimboliseer het. Hy het sy harmonie vir die wêreld gegee asook sy Goddelike liefde.

'n Mens kan weliswaar in die stoflike aarde die hartsimbool nie meer sien nie. Dis 'n gebroke eenheid wat in sewe stukke opgebreek het. In die nuwe geestelike aarde gaan hierdie stukke weer saamgevoeg word in sy hartvorm - soos die sinagoges in Jerusalem gebou is, die een bo die ander, sal daar 'n nuwe aarde bo die ou aarde gebou word.

In 1995, tydens 'n besoek van Wil en Jan aan Durban om daar geestelike werk vir die land te doen, (Durban is geleë op die 31-grade lengtelyn) het die Hemelse Vader meer aanwysings gegee oor die piramiede en die twee tersake lengtelyne:

Die piramide is gebou deur wesens van Sirius. Dit is in 'n tyd geplaas toe moeder aarde in groot gevaar was. Soos 'n mens 'n pasaangeër in sy hart kry om sy hartritme te herstel, so is die piramide op die planeet aarde se hartlyn geplaas om die planeet (elektromagneties) weer in balans te bring en te genees. Sy behoort aan God die Vader wat haar genees deur sy woord. Hy IS die Alfa en Omega en Hy bring altyd weer harmonie waar daar disharmonie is.

Die piramide is daar geplaas om die aarde weer in harmonie te bring met ander sonnestelsels sowel as met haar eie son. Dit is waarom Jesus Christus wat die nuwe geestelike son van ons sonnestesel gaan word se lewensgeskiedenis opgeskryf is in die sonnetempel. Die piramide is deur sonnekragte op aarde gebou om die disharmonie te herstel.

Nou is moeder aarde weer siek. Haar hart klop nie meer saam met die hartklop van die Hemelse Vader wat in die hoogste hemele is nie. Dit is waarom Hy vir Wil opdrag gegee het om die piramide in sy hande oor te dra.

Die 30-grade-lengtelyn is die hartlyn van die aarde wat moet verskuif na die 31-grade-lengtelyn. Die 30-grade-lengtelyn en die 31-grade-lengtelyn vorm saam 'n verskuiwingslyn (displacement line). Dit vorm die hartlyn van die aarde wat in harmonie herstel moet word. Daarom het Jesus Christus in die dal in Sanispas verskyn in die teken van die volmaakte harmonie.

Die draak oorwin

Die feit dat Sanispas geleë is in die Drakensberge, het die Hemelse Vader verduidelik, het ook 'n simboliese betekenis. Jare gelede het Hy vir Wil bekendgemaak (dit is nou deur geologiese navorsing wetenskaplik bevestig) dat die Drakensberg-sisteem by Kaappunt begin en strek tot bo by die Jordaanvallei. Die Afrika-slenkdal vorm alles deel van dieselfde sisteem. Die naam Draknsberg is voorwaar gepas want die sisteem het inderdaad die vorm van 'n draak wat met sy kop aan die Suidpunt lê en sy gesplete stert in Egipte en die Jordaanvallei laat uitstulp. Die krag van die draak gaan simbolies gebreek word en vervang word deur die nuwe hartlyn. Dit is simbolies die slang van Moses en Aaron wat in 'n staf moet verander.

In Exodus 4, waar God sy naam Ek IS wat Ek IS aan Moses bekendmaak, lees ons:

Maar toe sê Moses: "Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my nie en hulle sê die Here het nie aan my verskyn nie?" Toe vra die Here vir hom: "Wat het jy in jou hand?"

"'n Kierie (staf)," antwoord Moses.

"Gooi die kierie (staf) op die grond!" sê die Here vir hom.

Toe hy dit op die grond gooi, word dit 'n slang en Moses het daarvoor padgegee.

Die Here sê toe vir Moses: "Steek jou hand uit en gryp hom aan die stert."

Moses steek sy hand uit en gryp hom, en skielik word dit weer 'n kierie (staf) in sy hand.

Toe sê die Here: "Op grond hiervan sal hulle glo dat die Here die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, aan jou verskyn het."

In Eksodus 7:10-12, die gedeelte waar Farao nie die Isrealiete wou bevry om Egipteland te verlaat nie, lees ons:

Toe Moses en Aaron by die Farao kom, het hulle gedoen wat die Here beveel het: Aaron het sy kierie (staf) voor die farao en sy amptenare neergooi en dit het in 'n groot slang verander.

Die farao roep toe ook sy manne bymekaar wat die soort ding ken, sy goëlaars. Dié Egiptiese towenaars doen toe met hulle towerkunste presies dieselfde: soos elkeen sy staf neergooi,verander dit in 'n groot slang. Maar toe sluk Aaron s'n hulle s'n in!

Soos Moses die mag van die slang gebreek het, so het Jesus Christus ook die mag van die slang gebreek, en dit het 'n staf in sy hand geword. Waar die draak eers geheers het, neem Christus se koninkryk nou oor. Die simbool van draak of die slang word vervang deur die hart van die liefde. Die Hemelse Vader het dan ook vir Wil meegedeel dat die naam Drakensberg verander moet word na Michaelsberg want dit is die engel Michael wat met die draak veg en hom oorwin.