Die Heilige Maagd - Inleiding
Dit is so 'n groot voorreg vir 'n mensekind om sy Hemelse Familie te leer ken, soos dit 'n voorreg vir my en my man was om 'n aantal van die plekke waar die Hemelse Moeder verskyn het, te kon besoek. Graag wil ons 'n paar van ons ervaringe met u deel want dit is te groots om net vir onsself te hou. Op elke plek van haar verskyning, in Rue du Bac, La Salette, Lourdes, Fatima, Beauraing, Banneux, Efese, Ngome en "De Ark", sien ons hoe bekommerd sy oor die wêreld en die mens is.
Dit gaan naamlik om haar te sien soos sy haarself in Ngome (Suid-Afrika) voorstel: God se tabernakel. As God se tabernakel dra sy haar Seun as die hostie, die vrug. Later sal u in die beskrywing van Ngome meer hieroor lees. Ons wil dit graag kortliks eerste noem omdat dit aansluit by my vraag toe ek eendag vir ons Meester Jesus Christus, haar Seun, gevra het of dit Sy wil is dat ons soveel aandag aan haar gee. Sy antwoord hierop was:"Sy is die bloeisel, Ek is die vrug. Sonder die bloeisel is daar geen vrug nie. Dit is nou weer bloeiseltyd."
Wees een met haar en gee haar lewende water. Ons het destyds, dit was 1973, nog niks geweet van haar verskyning in Ngome nie. Het ons Heer haar rol nie tekenend beskryf nie? Die bloeisel en die vrug. Simbolies is dit ook die vrugte van die lewensboom in die Nuwe Jerusalem. Lees Openbaring 22:2 :
"Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies."
Het Jesus nie aan die kruis self sy moeder simbolies aan ons deur Johannes oorgedra nie? Vergelyk sy woorde aan die kruis in Johannes 19:27 :
"Daarna sê Hy vir die dissipel: `Daar is jou moeder.' Van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem."
Wil u nie Johannes as voorbeeld neem en Jesus se woorde aan die kruis: `Daar is jou moeder' in u eie lewe toepas nie? Wil u haar nie as u geestelike Hemelse Moeder aanvaar nie? Sy is die universele, geestelike Moeder. Sy is die Moeder van alle Godgerigte kinders. Sy is God se tabernakel. Soos sy, moet ons ook 'n tabernakel vir God wees. Ons moet God se wil op aarde bring. Deur God se Lig waarin sy eerste verskyn voordat sy 'n stoflike kleed aanneem, bring sy lig waar daar duisternis is. Sy leer ons - wat nog ons stofkleed dra - om ons geestelike, Goddelike kleed te leer ken en te dra. Ons Moeder genees in die eerste plek die siel van die mens, veral in Lourdes waar water en lig so 'n groot rol speel. Die mens se siel word in die hemele geoordeel, nie sy stofliggaam wat terugkeer tot die klei, die aarde, nie.
Op elke verskyningsplek deel sy verskillende genadegawes uit. Veral God se liefdeslig deel sy ryklik uit. Hoe bevoorreg is ons nie? Ons het 'n Hemelse Vader en 'n Hemelse Moeder wat vir ons die pad na die hoogste hemele wys. En hoe het die mens nie afgedwaal nie. U weet hoe versteurd en verskeurd die Vader-Moeder Godsbeeld op aarde is. Die man, die gewende lewe en die vrou die ontvangende. Ons het hierdie Goddelike resep in die paradys verloor. Eva het ons gebring tot die boom van kennis van goed en kwaad, die verkeerde vrug. Die gevolg is dood, siekte en disharmonie. Ons Hemelse Moeder herstel op aarde wat Eva verbrou het en bring ons terug tot by die boom van die lewe: God se lewe van harmonie, genesing en ewige lewe. Soos Jesus Christus, God se Seun, die simboliese tweede Adam geword het, so het sy Moeder die simboliese tweede Eva geword. Soos Jesus is Maria ook 'n geestelike mens geskep na die beeld van God. Dit is waarom Maria vir Jesus onbevlek kon ontvang. Sy het Sy Goddelike saad deur die Heilige Gees ontvang. Haar siel was nog één met die Heilige Gees van God. Alleenlik daardeur kon Jesus op aarde gebore word; geestelik gebore word in 'n geestelike Moeder sodat ons weer geestelike mense kan word wat eendag op sy dag terug mag gaan na die oorspronklike paradys; God se geestelike Moeder Aarde waar God regeer deur sy alomteenwoordige almagtige wysheid, volmaakte wil en liefde. Die paradys is die Nuwe Jerusalem - die stad van Goddelike geestelike lig. Die stad is toegerus soos 'n bruid. Dit is die stad waar God se Seun, die tweede Adam, saam met God regeer. Hy is die lamp van die Nuwe Jerusalem. Die mens wat saam met Hom oorwin mag weer ewig in die lewenslig van die boom van die lewe. God het deur sy ongekende liefde Sy Seun, die tweede Adam, na die ou aarde gestuur om die mens weer te leer om volgens sy Goddelike wette te lewe sodat daar geen dood meer sal wees nie; geen siekte; geen barensnood. Ons heilige, skeppende deel van ons liggaam sal weer God se lewenssaad geestelik kan ontvang. Ons sal weer met Sy lig beklee wees. Hemelse brood sal ons voeding wees. Hy, die ware brood, het ons teruggewen. Hy, die Lig van die wêreld, sal ons weer met Sy Lig beklee. Dood sal daar nie meer wees nie. Die tweede Adam het die dood aan die kruishout oorwin. Hy het die hout van die boom van goed en kwaad oorwin. Alleenlik deur sy liefdesoffer aan die kruis het Hy dit vir ons moontlik gemaak om terug te keer na die boom van die lewe. Sy wonde het 'n nuwe teken gevorm: sy oorwinningsteken. In dié teken sal Hy as oorwinnaar ons kom verlos op Sy dag. Lees Matthéüs 24: 30 - 35. Kan jy al die trompette van die engele hoor?Jy moet weet dat daar nog 'n groot teken in die lug gaan verskyn: 'n vrou wat met die son beklee was; en die maan was onder haar voete en op haar hoof was 'n kroon van twaalf sterre." (Openbaring 12: 1 en 2.) Die duisternis van eie-wil is nog nie oorwin nie. Die duiwel uit die tyd van die eerste Adam en Eva regeer nog. Ons lewe nog almal onder die boom van kennis van goed en kwaad en doen nog ons eie wil. Die Bybel leer ons om God se wil te eerbiedig en daarvolgens te handel en te lewe.
Ons geestelike Moeder lei ons om terug te keer na die boom van die lewe. Laat ons dan soos kinders wees en van haar leer. Sy het in haar geestelike siel deur bemiddeling van die Heilige Gees haar Seun geestelik onbevlek ontvang. Lees Lukas 1:46 :"My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker."
Sy ken ons geestelike siel veel beter as die beste sielkundiges. Sy het deur God se wil weer geestelik op aarde neergedaal. Sy is nog altyd God se diensmaagd en leer ons om God se wil op aarde te volbring. Deur God se wil mag ons weer geestelike mense word. Ons is geskape na die beeld van God: 'n geestelike mens. God is Gees. Soos die mens na die val verander het - van 'n geestelike mens na 'n stoflike mens - so het die wêreld ook verander van 'n geestelike wêreld na 'n stoflike wêreld. Sy verlos ons van die boom van kennis van goed en kwaad en bring ons terug na die boom van die lewe; die boom van die lewe wat midde in die Nuwe Jerusalem staan wat elke maand sy vrugte gee ter genesing van die nasies.
Die verlore mens moet wedergebore word en terugkeer na die boom van die lewe. Alleenlik ons Hemelse Familie kan ons leer hoe om weer in God se koninkryk, die Nuwe Jerusalem, opgeneem te word. Mensekind, leer van jou geestelike Vader en geestelike Moeder. As geestelike Moeder lei sy ons terug na ons geestelike Vader.
Mensekind:
"DAAR IS JOU MOEDER"